Liefde is van Bo

(Ellen G. White)

 

(Terug na Inhoudsopgawe)

 

Ons moet nie dink dat God hard en onvergewensgesind is nie. God is ook nie iemand wat gedurig op die loer is om die foute van die mens raak te sien en die mens daarvoor straf nie.

 

God stuur juis sy seun Christus om die Vader te openbaar om dan juis die sonde van die mens te bedek en die liefde van God aan ons te openbaar. “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, Dié het Hom verklaar”. Joh 1:18. “ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar”. Matt 11:27.

 

God het ons uitverkies en ons na sy beeld geskape en daardeur ons deel van sy familie gemaak. “Kyk wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.” 1Joh 3:1. Deur hierdie daad word daar waarde aan die mens gegee.

 

God gee aan die mens dus die geleentheid om nie meer te probeer wegkruip nie maar om wedergebore te word, want die wat nie wedergebore is nie, is nie in harmonie met God nie, en gemeenskap met God is vir hulle nie ‘n vreugde nie. Hulle kan nie gelukkig wees in die teenwoordigheid van God nie, hulle deins terug vir die gemeenskap met die heilige wesens. Al sou so ‘n mens wat nie wedergebore is nie, toegelaat word in sy koninkryk sou dit vir hom geen vreugde wees nie. Sy gedagtes, belange en motiewe, alles sou vreemd wees in vergelyking met die ander. Vir hom sal die koninkryk ‘n omgewing wees van pyniging, hy sal die begeerte hê om weg te vlug van die aangesig van Hom wat die lig en die middelpunt van die hemelse vreugde is. God sluit hulle nie uit nie maar hulle word uitgesluit deur hulle eie onbekwaamheid om daar in te gaan. Die heerlikheid van God sou vir hulle soos ‘n verterende vuur wees.

 

Dit is onmoontlik om van homself te ontvlug uit die kuil van sonde waarin hy vervalle is. Sy hart en gedagtes is boos en kan nie vanself verander nie. “Omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” Rom 8:7.

 

Om rein te word moet daar ‘n krag wees wat van binne werk, sodat die mens van ‘n lewe van sonde gelei kan word tot ‘n lewe van heiligheid. Daardie krag is Christus. Dit kan ‘n siel wat dood is, lewendig maak en dit tot God, tot heiligheid trek. “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Joh 3:3. M.a.w. As iemand nie ‘n nuwe hart, nuwe gedagtes en begeertes, nuwe motiewe kry wat tot ‘n nuwe lewe lei nie, kan hy die koninkryk nie sien nie.

 

Die idée dat mens maar net die natuurlike goedheid in jou moet ontwikkel, is ‘n groot dwaling. “Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in 'n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.

Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” 1Kor 2:10-14.

 

Sonder Christus kan daar geen karaktervorming wees nie. Die enigste weg tot God is deur Christus. “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Joh 14:6.

 

Dit is deur Christus alleen dat ons by God kan uitkom en heilig word maar hoe moet ons tot Christus kom?

 

“Bekeer julle” en by ‘n ander geleentheid, “kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word.” Hand 2:38; 3:19. (Ek dink dat bekering is net van toepassing op ‘n sekere groep mense – siele, hierdie groep wat afvallig geword het van die weg. Bekeer beteken, keer terug. As iemand nie daar was nie, waarheen moet hy terugkeer?) Bekering sluit dan ook berou oor sonde in met die opregte begeerte om te verander, want voordat ons nie ‘n afkeer in ons hart kry nie, sal daar nie ‘n ware verandering in die lewe kom nie. Daarom is daar baie wat nie reg verstaan wat ware bekering is nie want daar moet by hom ‘n verlange na reinheid en gemeenskap met God bestaan. Hierdie siel wat traag is om sy dors te les kom die boodskap: “laat hom wat dors het, kom. En laat hom wat wil, die water van die lewe neem verniet.” Op 22:17.

 

Moenie die geleentheid op terug te keer, uitstel nie, want duisende het al hierdie fout gemaak tot hul ewige verdriet. Daar is ‘n smeekstem van die Heilige Gees om nie uit te stel nie want jy kan vir ewig verlore gaan. Die sonde, die Satan, wat nie oorwin word nie, sal jou oorwin en uiteindelik die vernietiging veroorsaak. “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is dit die dag van verlossing” 2Kor 6:2. “Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie.” Heb 3:7-8.

 

Wees eerlik met jouself en wees net so erenstig en volhartdend as jy sou wees as jou lewe op die spel was. Dit is ‘n saak wat jy met God moet uitmaak – vir die ewigheid moet uitmaak. As u slegs hoop, en niks meer nie, sal dit jou ewige ondergang bewerkstellig. In die Woord en die wet van God en in die lewe van Christus, het u die ewige Beginsels van heiligheid “waarsonder niemand die Here sal sien nie.” Heb 12:14.

 

Hierdie saak kos toewyding. Die belofte van God is: “julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” Jer 29:13. Die hele hart moet aan God oorgegee word, of ons sal nooit in Sy ewebeeld kan herskep word nie. God wil ons genees en vrymaak, maar aangesien dit beteken dat ons heeltemal verander moet word, dat ons geheel en al herskep moet word, moet ons ons heeltemal aan Hom oorgee. Die oorgawe van self, die oorgawe van die wil aan God, kos stryd; dog die siel moet aan God oorgegee word voordat dit in heiligheid kan herskep word. U moet ook nie gedwonge gevoel word nie. ‘n gedwonge onderwerping sal die ware ontwikkeling van hart en karakter verhinder; dit sal van die mens ‘n blote outomaat maak, en dis nie die doel van die Skepper nie. Hy verlang dat die mens, die pronkstuk van die skepping, die hoogs moontlike ontwikkeling sal bereik. Dit word aan jou oorgelaat om te kies of jy van die sonde vrygestel wil wees om die heerlike vryheid van die seun van God deelagtig te word. In jou oorgawe aan God moet jy noodwendig alles verlaat, al die ou dinge, wat jou van God skei. “so kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, My dissipel wees nie.” Luk 14:33. jy kan die deels aan God en deels aan die wêreld behoort nie. Tensy jy nie heeltemal aan God behoort nie is jy nie Sy kind nie. Dit is jou voorreg om na Christus te gaan vir reiniging. “daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Rom 8:1. voortaan behoort jy nie meer aan jouself nie; want jy is nou duur gekoop. “julle is nie deur verganklike dinge, silver of goud, losgekoop nie, maar deur die kosbare bloed van Christus soos van ‘n Lam sonder gebrek en vlekkeloos.” 1Pet 1:18-19.

 

As jy jouself eenmaal aan die Here gegee het, moet dan nie weer terugtrek nie; moet Hom nie weer verlaat nie, maar sê elke dag: “Ek behoort aan Christus; ek het myself aan Hom gegee.” Dit is dan dat jy Sy kind word; en so moet jy dan ook lewe. “aangesien julle dan Christus Jesus die Here aangeneem het, wandel in Hom.” Kol 2:6.

 

Onthou, niemand is te sondig on krag en reiniging en regverdigheid te vind in Christus nie. Hy wag om jou besoedelde klere uit te trek, en jou te beklee met die wit klere van geregtigheid. “Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here Here. Bekeer julle dan en lewe.” Eseg 18:32. Satan staan gereed om die geseënde versekerings van God van jou weg te neem. Hy wil alle hoop en lig aan die siel ontneem; maar jy moet hom nie toelaat om dit te doen nie.

 

Daar is ‘n toets van dissipelskap. “As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel: die ou dinge het verbygegaan; kyk, dit het alles nuut geword.” 2Kor 5:17. “ Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarnatoe hy gaan nie. So is elkeen wat uit due Gees gebore is.” Joh 3:8. Soos die wind wat onsigbaar is, maar waarvan die uitwerking duidelik gesien en gevoel kan word, is ook die werking van die Gees van God in die Menslike hart. Die skeppende krag, wat die menslike oog nie kan sien nie, verwek ‘n nuwe lewe in die siel; dit skep ‘n nuwe wese in die ewebeeld van God. Terwyl die werking van die Gees stil en onsigbaar is, kan mens nogtans die uitwerking daarvan duidelik sien. As die hart deur die Gees vernuwe is, sal die bewyse daarvan in die lewe gesien word. Daar sal ‘n verandering in jou leefwyse, karakter en werk gesien word. Die teenstelling tussen wat jy eers was en wat jy nou is, sal baie duidelik uitkom. Jou karakter word geopenbaar, nie deur goeie of slegte dade so nou en dan nie, maar deur jou allerdaagse woorde en dade.

 

Waaraan sal jy jou toets, hoe sal jy vasstel aan wie se kant jy staan?

 

Aan wie behoort jou hart?

Waar is jou gedagtes?

Van wie praat jy graag?

Aan wie bestee jy jou liefde en vir wie doen jy die beste werk?

 

As jy toegewyd is Christus en aan Hom behoort, sal jy oor Hom dink. Jy sal verlang om Sy beeld te dra, Sy Gees te hê, Sy wil te doen en Hom in alles behaag.

 

As jy aan Christus behoort en in Hom ‘n nuwe skepsel geword het, sal jy due vrugte van die Gees voortbring, naamlik; “Liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Gal 5:22. Jy sal die ou sondig dinge en lewe afsterf en deur die geloof Hom navolg, Sy karakter openbaar en jouself reinig soos Hy rein is. Die dinge wat jy eers gehaat het, sal jy nou liefhê en die dine wat jy liefgehad, sal jy nou haat. Jy sal jou nie toelê op uiterlike versierings nie maar sal soek om die verborge mens van die hart te versier met “’n sagmoedige en stille gees.” 1Pet 3:3-4. Tensy daar ‘n hervorming in die lewe plaasvind, is daar geen bewys van ‘n opregte bekering nie.

 

Wanneer jy tot Christus kom en Sy genade deelagtig word, wel daar liefde in jou hart op. elke las is dan lig, want die juk van Christus is nie swaar nie. Plig word ‘n vreugde en offering en plesier. Die pad wat eers donker was is nou bestraal deur die Son van geregtigheid. Die lieflikheid van Christus se karakter sal in jou as sy navolger gesien word.

 

Liefde is uit God en die hart wat nie toegewy is nie, kan dit nie voortbring nie. In die hart wat vernuwe is, is liefde die dryfveer. Dit vorm jou karakter, beheers die drifte, hou jou in bedwang en veredel jou lewe. Hierdie liefde, in die hart gekoester, maak die lewe soet en versprei ‘n verdeeld invloed rondom ons.

 

As jy deur liefde beheers en jou in die beeld van jou Skepper herskep is, sal die belofte van die nuwe verbond aan jou vervul word: “Ek sal My wette gee in hulle hart en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe.” Heb 10:16. As die wet in die hart ingeskrywe is, sal dit nie die lewe beinvloed nie? Gehoorsaamheid – die bewys van liefde en trou – is die teken van ware dissipelskap. Derhalwe sê die Bybel, “Hy wat sê: Ek ken Hom – en Sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leunaar en in hom is die waarheid nie.” 1Joh 2:4.

 

Hier is die ware toets: As jy IN Christus bly, en die liefde van God in jou woon, sal gevoelens, jou gedagtes, jou dade, in ooreenstemming met Sy wil wees, soos uitgedruk in Sy heilige wet. “My kinders laat niemand julle mislei nie; wie die geregtigheid doen, is regverdig soos hy regverdig is.” 1Joh 3:7. hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” 1Joh 2:3-6. “Want Christus het ook vir julle gely en ‘n voorbeeld vir julle nagelaat, sodat julle Sy voetstappe kan navolg.” 1Pet 2:21.

 

Die voorwaarde vir die ewige lewe is vandag nog net wat dit altyd was naamlik, volkome gehoorsaamheid aan die wet van God – volmaakte geregtigheid. Christus se karakter geld in die plek van jou karakter en God neem jou aan asof jy nooit gesondig het nie. Solank jy jou aan God onderwerp sal God in jou werk om te werk na Sy welbehae. “dit is nie julle wat spreek nie, maar die gees van julle Vader wat in julle spreek.” Mat 10:20. as Christus dus in jou werk, sal jy dieselfde gees openbaar en dieselfde werke doen, naamlik, werke van geregtigheid en gehoorsaamheid.

 

Hoe digter jy aan Christus kom, hoe meer sal jy jou foute besef; want jy sal kan beter sien en jou onvolmaakthede sal duidelik afsteek by Sy volmaakte karakter.

 

Die verandering van hart waardeur ons kinders van God word, word in die Bybel wedergeboorte genome. Dan weer word dit vergelyk met die ontkieming van die goeie saad wat deur die landman gesaai word. Diegene wat net tot Christus bekeerd is, moet soos “pasgebore kindertjies” opgroei in Christus ‘tot ‘n volwasse man en die mate van die volle grootte van Christus.” 1Pet 2:2 en Ef 4:13. dit word ook vergelyk met saad wat in die land gesaai is en wat opskiet en graan voortbring.

 

Tensy ‘n mens uit God gebore is, kan hy nie die lewe van Christus deelagtig word nie.

 

Sowel plante as kinders groei deur die dinge op te neem wat hulle groeikrag sal bevorder, naamlik: lug, sonskein en voedsel. Wat hierdie dinge vir die natuurlike lewe is, is Christus vir diegene wat op Hom vertrou. Hy is hulle “ewige lig” en “son en skild” Jes 60:19 en Ps 84:12. “Hy is vir Israel soos die dou;” en Hy sal op hulle “neerdaal soos reent op die grasveld, soos ‘n swaar reent op die aarde. Hosea 14:6 en Ps 72:6. hy is die lewende water, ‘die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee.” Joh 6:23. In die onuitspreeklike gawe van Sy Seun het God die ganse aarde omhul in ‘n atmosfeer van genade, net so werklik as die lug om die aardbol. Almal wat verkies om hierdie lewegewende atmosfeer in te asem, sal lewe en opgroei tot die mate van die volle grootte van Christus. Soos die blom hom na die son keer, sodat die helder sonstrale hom kan help om sy skoonheid en eweredigheid te volmaak, so moet jy ook na die Son van Geregtigheid keer, dat die hemelse lig jou kan bestraal en dat jou karakter ontwikkel kan word in die ewebeeld van Christus.

 

Jesus leer die waarheid waar Hy sê, “bly in My, en Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van himself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie; …. Want sonder My kan julle niks doen nie.” Joh 15:4-5. Jy is net so afhanklik van Christus om ‘n heilige lewe te lei as wat die rank van die wynstok is om vrugte te dra. Sonder Hom het jy geen lewe nie. Jy het geen krag om versoeking te weerstaan nie. Deur in Hom te bly, sal jy groei; en as jy jou lewe van Hom ontvang sal jy nie verdor of sonder vrugte wees nie; jy sal soos ‘n boom wees wat langs ‘n rivier staan.

 

Jou genade, vreugde en bruikbaarheid – alles hang af van jou verbintenis met Christus. Dit is deur die gemeenskap met Hom, elke dag, elke uur – deur in Hom te bly – dat jy in genade vernuwe. Jy moet alles gee, jou hart, jou wil en jou diens. Gee jouself aan Hom om Sy bevele te gehoorsaam.

 

Die lewe in Christus is ‘n rustige lewe. Daar sal miskien geen heerlike gevoel wees nie, maar daar behoort ‘n blywende, vreedsame vertroue te wees. Jou hoop is nie in jouself nie, dit is in Christus. Jy moet dus nie op jouself vertrou of jou oë op jouself vestig nie, maar op Christus. Dink oor Sy liefde, heerlikheid en volmaaktheid van Sy karakter.  Dit is die dinge wat jy moet bedink. Jesus sê, “Bly in My.” Hierdie woorde spreek van rus, sekerheid en vertroue. Hy sê ook, “Kom na My toe … en Ek sal julle rus gee.” Mat 11:28-29. hierdie rus word nie in ledigheid gevind nie; want die Heiland se uitnodiging in verband met rus gaan gepaard met ‘n oproep tot werk: “neem My juk op julle … en julle sal rus vind.” Mat 11:29. die hart wat heeltemal in Christus rus gevind het, is die hart wat die vurigste vir Hom werk.

 

Satan lê hom dus daarop toe om die oë van die gelowige van Christus af te hou om sodoende die verbinding en gemeenskap van die siel met Hom te verhinder. Die genot van hierdie wêreld, die kwellings, moeilikhede en droefhede van die lewe, die foute van ander, jou eie foute en onvolmaakthede – op sommige of al hierdie dinge sal hy die aandag vestig. Moenie deur sy listige planne verlei word nie.

 

Hou jou oë gevestig op Christus en Hy sal jou bewaar en jy sal veilig wees. Deur Hom gedurig te aanskou, word jy “van gedaante verander na die beeld van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die here wat die Gees is.” 2Kor 3:18.

 

Jesus het vir ons gebid en hy het gevra dat ons een met Hom mag wees, net soos hy een is met die Vader. Wat ‘n vereniging? Van Homself het die Heiland gesê: “Die seun kan niks uit Homself doen nie, maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke.” Joh 5:19 en 14:10. as Christus dan in ons harte woon, sal Hy in ons werk, “om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae.” Fil 2:13. ons sal werk soos Hy gewerk het; ons sal dieselfde gees openbaar. Op hierdie manier sal ons, as ons Hom liefhet en in Hom bly, “opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus.” Ef 4:15.

 

As die liefde van Christus in die hart woon, sal dit geopenbaar word soos ‘n lifelike geur – dit sal nie kan bedek word nie. Die heilige invloed daarvan sal gevoel word deur almal met wie ons in aanraking kom. Die gees van Christus in die hart, is soos ‘n waterfontein in die woestyn en die dorstige word gretig gemaak om van die water van die lewe te drink. Die liefde van Christus sal geopenbaar word in ‘n begeerte om te werk soos y gewerk het vir die opheffing en seën van die mensdom. Sy lewe was nie een van gemak nie maar Hy het ernstig en volhardend gewerk vir die redding van die verlore mensdom. Om die wil van God te doen en Sy werk te voleindig, was soos voedsel en drank vir Hom. Eie belang het geen plek in Sy werk gehad nie. Diegene wat deelgenote is van die genade van Christus sal ook gereed wees om enige opoffering te maak, sodat ander ook deel kan hê in die hemelse gawe. Sodra iemand tot Christus kom, ontstaan daar in sy hart ‘n begeerte om aan ander te vertel van die dierbare vriend wat Jesus vir hom geword het. As jy met die geregtigheid van Christus beklee is en die vrug en vreugde van Sy inwonende gees smaak, sal jy nie kan stilbly nie. Daar sal ‘n vurige begeerte wees om in die voetstappe van Jesus te volg, en daar sal ‘n ernstige verlange wees dat diegene rondom jou ook die Lam van God sal sien.

 

In Sy groot liefde het y jou uitverkies as Sy medewerker, sodat jou ook in die seën, die vreugde, die geestelike opheffing kan deel wat spruit uit sulke onselfsugtige diens. As jy sou werk soos Christus bedoel het dat Sy dissipels moet werk en siele vir Hom sou win, sou jy jou behoefte besef aan ‘n dieper kennis en ondervinding van goddelike dinge en jy sal honger en dors na geregtigheid. Die gees van onbaatsugtige diens vir ander sal jou karakter sterk en soos die van Christus maak en dit sal vrede en vreugde aan jou bring. Al jou strewe sal heilig wees en daar sal geen plek wees vir luiheid en selfsug nie. Jy sal ‘n helderde geestelike insig hê, ‘n vaste, toenemende geloof en groter vermoë om te bid.

 

Krag kom deur oefening, bedrywigheid is die een voorwaarde van lewe. Die wat traag is om hul Christelike lewe aan die gang te hou deur stil te sit en maar net die seëninge wat van God kom, te geniet en wat niks vir Christus doen nie, probeer eenvoudig om te lewe deur te eet sonder om te werk. Die gevolge van so ‘n handelswyse is agteruitgang en verwording. ‘n Man wat weier om sy bene te gebruik sal baie gou nie meer kan loop nie. Die christen wat nie God gegewe kragte gebruik nie, sal slegs geen vordering maak in die Christelike lewe nie, maar hy sal ook die vermoëns wat hy reeds besit, verloor.

 

Die kerk van Christus is die kanaal wat God daargestel het vir die redding van mense – siele, sy roeping is om die evangelie aan die wêreld te bring.

 

God het ons die lig gegee, nie vir onsself nie maar ook om op ander te laat skyn. Mat 5:14. as jy ‘n ware navolger van Christus is, sal jy jou godsdiens orals met jou saamneem en die gees van Christus openbaar. Jy Moenie op groot geleenthede wag of buitegewone bekwaamhede verwag voordat jy vir die here begin werk nie. As jou daaglikse lewe getuig van reinheid en van die opregtheid van jou geloof en as ander sien dat jy hulle graag wil help, sal jou pogings nie tevergeefs wees nie.

 

Die kinders van god is geroep om Christus te verteenwoordig. Om Sy goedheid en genade te verkondig. Net soos Jesus aan ons die ware karakter van die Vader geopenbaar het, moet ons ook Christus openbaar aan ‘n wêreld wat onbekend is met Sy ontfermende, medelydende liefde. “Soos u My gestuur het in die wêreld, … het Ek ook hulle gestuur in die wêreld ….. Ek in hulle en in My, …. Dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het.” Joh 17:18 en 23.

 

Christene is die lampe op die pad na die hemel. Hulle moet aan die w♪6reld die lig wat van Christus op hulle skyn, weerkaats. As jy Christus wel verteenwoordig, sal jy Sy diens so aantreklik maak soos dit werklik is. Christene wat swaarmoedig en somber is en wat murmereer en kla, gee aan ander ‘n valse voorstelling van God en die Christelike lewe.

 

Dit is nie verstandig om al die onaangename herinneringe van die verlede – die sonde en terleurstellings – weer op te grawe en daaroor te praat en te treur totdat jy weer deur moedeloosheid oorweldig word nie. ‘n Siel wat moedeloos is, is met duisternis vervul wat die lig van God uitsluit en ook ‘n skaduwee op die pad van ander werp.

 

(Terug na bo)